Ek gaan op reis en ek neem saam: myself, Google maps, my rugsak en my social skills


Alleen reis is onvermydelik, maar ek sal eintlik sover gaan as om te sê dit is noodsaaklik! 

Daar is ’n paar voor- en nadele van alleen reis. Om die waarheid te sê, alleen reis is skrikwekkend! Glo my jy gaan oomblikke kry waar jy stres! Jy moet op jouself staatmaak om nie te verdwaal nie, om betyds te wees en om nie ’n bus of ’n trein te verpas nie; jy moet self dubbel sekermaak dat al die admin vir jou reis in orde is.

Aan die ander kant is alleen reis ’n avontuur! Jy is vry om te doen wat jy wil, te gaan waar jy wil, jy hoef nie iemand anders se behoeftes en begeertes in ag te neem nie. Jy kan alles inneem en beleef op jou eie tyd. Alleen reis gee jou ook die geleentheid om uit jou gemaksone te beweeg en om nuwe mense te ontmoet van reg oor die wêreld! 

In die somer van 2018 het ek tot groot ontsteltenis besef dat ek alleen gaan moet reis in my somervakansie. Ek was bang, maar terselfdetyd was ek vreeslik opgewonde. Ek het baie meer beplanning in my reis gesit as wat ek normaalweg sou doen. Ek wou seker maak ek voorkom alle probleme, want glo my daar ontstaan altyd op een of ander manier ’n probleem wanneer ’n mens reis. Ek het helaas na hierdie reistoer agtergekom dit maak nie saak hoeveel jy beplan nie, probleme is net eenvoudig onvermydelik wanneer dit kom by reis!

Ek was met ’n bustoer Italië toe. Ja, busry raak lank maar dis ekonomies, dis in groepsverband, so dis veiliger, en alles is klaar vir jou gereël – jy klim net op en gaan. Hierdie bustoer het vertrek vanaf Duitsland, dus ek moes eers met ’n bus vanaf Nederland na Duitsland gaan. Uiteindelik in Duitsland aangekom en my bus na Italië gehaal sonder probleme. Op die bus het ek my goeie social skills gebruik om vriende te maak met die persoon langs my. Sy naam was Benham. Hy kom van Iran en studeer Elektroniese ingenieurswese in Duitsland. En so het Benham outomaties my reis-buddy geword! Ek en Benham het ure se gesprekke gehad oor die Duitse kultuur, die Nederlandse kultuur, sy Iraanse kultuur en natuurlik ook my eie kultuur, asook die ervaring om in ’n ander land te lewe weg van jou eie kultuur, vriende en familie. 

Saam het ek en Benham baie pret gehad terwyl ons Como, Milan, Florence, Pisa en Venesië gesien het. Ons het ongelooflik baie gestap en dit was vreeslik warm! Ek het besef hoe moeilik dit is om te reis in sulke hitte. Jy het baie motivering om soveel as moontlik te wil sien en beleef, maar daardie motivering verdamp in ’n oogwink in die bloedige hitte van die dag, en dan wil jy net êrens onder ’n koelteboom gaan lê en slaap! My raad aan enige iemand wat dalk eendag Italie toe wil gaan, doen dit miskien in die winter! Die lekker ding van Italie is dat daar orals in elke stad krane is wat vars koue water aan almal verskaf, so gelukkig het ons nie gedehidreer nie! 

Na ’n paar opwindende, uitputtende en bloedig warme dae is ons weer terug met die bus Duitsland toe. In Duitsland moes ek weer ’n bus haal Nederland toe. En toe raak dinge interessant. As gevolg van verbouings in Frankfurt is die normale bushalte tydelik verskuif. Ek het na die verskuifde bushalte gegaan en vir my bus gewag. Ek het lank gewag en paniekerig begin wonder of ek nie die bus verpas het nie. Tot my groot ontsteltenis en stres het ek besef ek het inderdaad die bus gemis. Ek weet tot vandag toe nie hoe ek dit reggekry het nie, want ek sweer hoog en laag ek was op die regte plek! 

Toe moes ek met my laaste geld ’n nuwe buskaartjie koop, vir ’n bus wat eers 6 ure later sou verterk. En toe sit ek met nog ’n probleem, my geld was eintlik bedoel om op my treinkaart gesit te word, sodat ek nog met die trein kon huistoe ry. Ek het myself gerus gestel en gedink ek sal geld uit my Suid Afrikaanse bankrekening trek sodra ek in Nederland aankom. Ek was ontsteld, kwaad en het skaam gekry oor wat my oorgekom het! Ek het my een vriendin gebel en haar vertel wat gebeur het. Sy het vir my gelag en gesê dieselfde ding het al met haar ook gebeur en ek sal sien, eendag sal ek nog daaroor kan lag. Ek het gedink sy is gek, dat ek nooit ooit hieroor sal kan lag nie en dat ek die storie nooit aan enige iemand sal oorvertel nie! 

So, toe sit ek vir 6 ure lank op Frankfurt se treinstasie, sonder geld om eens ’n koffie te kan koop, maar gelukkig het ek ’n boek gehad om te lees. Ek het my volgende bus gehaal en veilig die volgende oggend vroeg in Eindhoven gearriveer. Toe ek wou geld trek, besef ek my Suid-Afrikaanse bankkaart lê by die huis. Ek het 5 Euro nodig gehad om by die huis te kom. Ek skraap toe 5 Euro in munte bymekaar, letterlik my laaste, laaste geld en ek sit dit op my kaart. Opgewonde om uiteindelik te kan huistoe gaan het ek probeer om in te check net om teleurgesteld te onthou ek kort ten minste 10Euro op my kaart om te kan in check. 

Ek het moedeloos al my goed op die grond uit frustrasie neergegooi en in sak en as op die grond gaan sit!  Ek was moeg, honger en het dae laas gestort. Terwyl ek op die grond gesit en myself jammer gekry het, het ’n vreemdeling vir my kom vra wat fout is. Nou, ek haat dit as mense bedel, en met sobstories by my kom en se hulle kort geld, maar hy’t gevra en ek het bloot geantwoord. En sowaar het die vreemdeling besluit om vir my 5 Euro te gee om my te help, sonder om iets terug te verwag!

Alleen reis is soms stresvol, skrikwekkend en vol slegte geluk oomblikke, maar dit verseker wel goeie stories om later oor te vertel en om oor te lag, asook nuwe internasionale vriende! 

‘You never travel alone, the world is full of friends waiting to get to know you’ 

-Nandi.

Leave a comment

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑